FAQ
1. Wie moet ek laat weet as my kind die dag siek is ?
- Bel asb. die kantoor (indien u kind moontlik langer as 2 dae siek sal wees.)
- U kan die registeronderwyser/es inlig deur ‘n e-pos te stuur
Wanneer u kind terugkeer na die skool, stuur asb. ‘n mediese nota of nota van u as ouer saam met die inligting waarom en hoe lank die kind afwesig was. Die nota word op lêer geplaas.
- Indien u kind ‘n toets misloop, moet ‘n skriftelike nota ingedien word waarom die toets gemis is. Kontak ook asb. die kantoor sodat die betrokke personeellid ingelig kan word en die nodige reëlings getref kan word. Volgens die CAPS-beleid, moet alle geskeduleerde toetse ingehaal word.
2. Wat doen ek om my kind se werk wat hy/sy verloor het a.g.v. afwesigheid, in te haal?
Dit is die kind se verantwoordelikheid om die werk by die onderwyser te kry en in eie tyd in te haal. Indien ‘n opdrag vir punte gemis is, moet die leerder die opdrag inhaal en ‘n tydreëling met die onderwyser tref wanneer dit voltooi moet wees.
3. Wat doen ek as my kind ‘n toets mis weens afwesigheid?
- n Mediese nota of nota van die ouer moet ingedien word waarom die toets nie afgelê is nie. Volgens die CAPS-beleid, moet alle geskeduleerde toetse ingehaal word.
- Klastoetse in Tale en Wiskunde moet ongelukkig ook ingehaal word, geen vrywaring van die toetse nie. Die personeel sal dan reël wanneer die toets afgelê word.
- Let wel: graad 7- leerders moet alle geskeduleerde toetse skryf om in aanmerking te kom vir Graadprestasies/Trofee aan die einde van die jaar.( vir elke betrokke vak )
- Indien daar geen skriftelike bewys ontvang word nie, skryf die kind die toets die eerste dag wat hy/sy weer by die skool is. Indien die kind nie binne 3 skooldae na die toets terugkeer nie, sal die kind ‘n 0 ontvang, tensy die mediese nota ander datums spesifiseer (hoe lank, indien langer as 3 dae)
4. Wat doen ek as ek by voorbaat weet my kind gaan ‘n toets misloop as gevolg van ‘n geldige rede?
Kontak die betrokke onderwyser telefonies/skriftelike sodat die toets vroeër/later as geskeduleer, afgelê kan word. Geen vrystelling van enige toetse nie.
5. Waar en wanneer kan ek afbakening vir toetse kry?
Graad 4-6 leerlinge ontvang hul afbakening skriftelik in die klas. Skriftelike afbakening is ook op die webblad beskikbaar. Graad 7 se afbakening word deur die onderwyser in die klas óf op die bord geskryf óf mondeling oorgedra. Dit is die verantwoordelikheid van die leerling om die afbakening self neer te skryf. Die afbakening is nie op die webblad beskikbaar nie. Alle afbakening word ten minste een (1) week voor ‘n toets aan die leerlinge gegee. Dit is moeilik om die afbakening vroeër te gee, want personeel kan nie altyd bepaal hoeveel werk afgehandel gaan wees teen ‘n gegewe tyd nie aangesien daar dikwels onvoorsiene “stressors” opduik wat beplanning omkrap. So vroeg as wat afbakening beskikbaar is, sal dit uitgegee word.
6. Mag my kind ‘n toets oorskryf ( hereksamen ) indien hy/sy nie goed gedoen het met ‘n toets nie?
Nee, ongelukkig nie. Weereens moet die leerlinge die verantwoordelikheid aanleer rakende die belangrikheid van toetse/eksamen. Daar is wel soms uitsonderlike gevalle waar daar iets in die ouerhuis gebeur het wat die kind traumaties kan beleef en dan negatief beinvloed met die aflegging van die toets/eksamen bv. dood van familielid, ernstige siekte, en andere. Indien dit die geval is, versoek ons dat die ouer skriftelik die skool in kennis sal stel van die omstandighede en dat die betrokke onderwyser die nota sal ontvang op die dag van die toets. Dan kan die saak met meriete hanteer word, en die resultate sal aan die ouerhuis gekommunikeer word. ‘n Opvolgdatum sal dan met u gereël word.
7. Wat doen ek as ek ‘n probleem ondervind met ‘n onderwyser, die vak inhoud of die aanbiedingswyse?
Kommunikeer direk met die onderwyser, reël ‘n afspraak om die saak te bespreek, skakel of e-pos. Indien die probleem nie opgelos word nie, kontak die betrokke Departementshoof.
8. Wat doen ek as daar foute begaan is deur ‘n onderwyser met die merk van my kind se opdragte/toetse?
Onderwysers is ook mense, hulle maak ook foute. Kommunikeer asb. die foute met die betrokke onderwyser hetsy telefonies, e-pos of per brief. Moet asb. nie op die opdragte/toetse self boodskappe skryf nie, dit word beskou as amptelike dokumente.
9. Word die kinders se skrifte/opdragte gemerk en foute gekorrigeer?
Daar is twee maniere hoe onderwysers kontrole uitoefen oor skriftelike werk.
- Intensiewe nasien: onderwyser merk self die skrif/opdrag met rooipen. Dit is gewoonlik opdragte wat vir punte tel. Na afloop van die nasien, gee die onderwyser die korrekte antwoorde aan die leerders en die leerders doen dan self (in grys potlood) nasorg van die foute
- Kontrole: die onderwyser onderteken die skrif/opdrag om aan te dui dat die opdrag wel gedoen is. Die leerlinge merk gewoonlik self(met grys potlood) die tipe opdragte. Na afloop van die merk word nasorg gedoen. Dit is gewoonlik opdragte wat nie punte tel nie maar in sekere gevalle word dit wel gebruik vir punte soos tafeltoetse, spellingtoetse ens.
10. Wat doen ek as my kind sy/haar boeke,take,skryfmateriaal ens. tuis vergeet het?
Kinders moet verantwoordelikheid geleer word. Indien u as ouer dit altyd agter die kind aanry, leer hul dit nie. Dit is ook onregverdig teenoor leerlinge wie se ouers nie die bogenoemde kan doen nie. Dit is ook baie steurend vir kinders en personeel wanneer daar kinders via die interkom na die kantoor geroep word, om dan net goedere te ontvang. Kom ons kontroleer die inhoud van die tas voor die huis verlaat word.
11 .Wat kan ek doen as daar ‘n navorsingstaak in ‘n vak gegee is, en ek het nie internet toegang nie?
Die leerlinge mag die skool se rekenaarsentrum gebruik vir navorsing. Die rekenaarsentrum is Maandae tot Woensdae beskikbaar vanaf 14:00 – 15:00 NB : Tref asb. vroegtydig met die rekenaarpersoneellid ‘n reëling dat die kind wel die rekenaar wil gebruik. Die rekenaarsentrum word ook naskool deur ander persone gebruik. Bring asb ‘n geheue-stokkie om die inligting te stoor. Die inligting kan ook gratis uitgedruk word, indien dit relevant is en nie te veel bladsye beslaan nie.
12. Wat gebeur as die onderwyser afwesig is weens siekte of ander omstandighede?
- Indien ‘n personeellid afwesig is weens siekte vir ‘n kort tydperk (1/2 dae), gaan die kinders na ‘n toesigklas. Die kinders hou hul self dan besig met enige akademiese aktiwiteite soos lees, leer, teken of skryf. Die beplande les sal oorstaan tot die personeellid terugkeer.
- Indien ‘n personeellid afwesig is weens siekte vir ‘n langer tydperk (meer as 2 dae), reël die bestuur aflospersoneel indien moontlik. Die nodige lesplanne ens. word aan die aflospersoon gegee, en akademie sal voortgaan soos normaal.
- Indien ‘n personeellid spesiale verlof neem is die personeellid daarvoor verantwoordelik om ‘n aflospersoon in sy/haar plek te kry vir die tydperk. Die nodige lesplanne ens. word aan die aflospersoon gegee, en akademie sal voortgaan soos normaal.
13. Hoe werk my kind se puntesamestelling?
Kwartaal 1 tot 3
Graad 4 – 6 = | 75% deurlopende assessering |
25% summatief | |
Graad 7 = | 40% deurlopende assessering |
60% summatief |
Kwartaal 4
Graad 4 – 6
- Kwartaal 1 – 3 se totale punt = 75%
- Kwartaal 4 se eksamenpunt = 25%
Graad 7
- Kwartaal 1 – 3 se totale punt = 40%
- Kwartaal 4 se eksamenpunt = 60%
14. Wat gebeur indien my kind nie ‘n taak/opdrag/mondeling doen nie?
Take en opdragte word in die klas gedoen. Indien u kind dit nie doen nie, ontvang hy/sy ‘n 0. Mondeling word ook in die klas gedoen. Dit is baie belangrik dat u kind van flitskaarte gebruik maak. Indien leerder nie voorberei het vir ‘n toespraak nie, kry hy/sy die geleentheid om onvoorbereid te praat. Indien die leerder weier, word ‘n 0 toegeken. Dit gebeur soms dat die aanbieding van mondeling lank vat en u kind dus vir 3 of selfs 5 dae sy/haar mondeling moet saambring skooltoe. Indien hy/sy dit goed ingeoefen het en daar is flitskaarte beskikbaar, sal hy/sy nie onnodig weer moet voorberei nie.
15. Hoeveel tyd ontvang my kind om take/mondeling ens. voor te berei?Here
Alle take en mondeling word ten minste twee (2) weke voor die tyd aan die kinders uitgegee. In graad 4-6 ontvang die leerlinge die opdragte skriftelik en in graad 7 moet die leerlinge self die opdragte neerskryf nadat die onderwyser dit aan hul voorgehou het. Die voorskrifte sal duidelik wees wanneer die inhoud by die skool moet wees.